GAUTENG. – Altesaam 181 laboratoriumbevestigde gevalle van masels is vanaf 1 Januarie tot 13 Junie in veral die distrikte van Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni bevestig.
Die departement van gesondheid in die provinsie het Woensdag in ‘n verklaring gesê in die nuutste aanmeldingstydperk is Gauteng 15 nuwe gevalle aangemeld: 10 in Tshwane, twee in Johannesburg, twee in Ekurhuleni en een aan die Wes-Rand. Die uitbraak bly aktief in brandpuntgebiede soos Mamelodi en Winterveld, waar onderskeidelik 35 en 10 gevalle aangemeld is.
Die brandpunte het tot ‘n inentingsveldtog by skole in van die gebiede in Tshwane gelei, terwyl gewone inentings in ander gebiede van Johannesburg, soos taxistaanplekke en plekke waar groot getalle mense saamdrom, toegedien is.
Die departement sê wat kommerwekkend is, is ‘n gaping in immuniteit by kinders – wat óf glad nie ten volle ingeënt is nie, óf nooit masels- of rubella-inspuitings gekry het nie.
Altesaam 16 maselsgevalle is in hospitale behandel.
Lees meer hier onder:


Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





