LIMPOPO. – Gewapende mans het Woensdagaand kort voor 22:00 sowat agt kilometer voor die Nylplaza-tolhek twee passasiers van ‘n bus doodgeskiet. Verskeie ander passasiers is beroof.
Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring Die Volvo-bus met 54 passasiers was onderweg van Randfontein na Zimbabwe. Twee mans agter in die bus het vuurwapens uitgehaal en hulle mede-passasiers van selfone en geld beroof. Toe ’n manlike passasier probeer ingryp, het ‘n stoeiery ontstaan en verskeie skote is geskiet. ’n Man van sowat 30 jaar oud en ’n jong vrou is op die toneel dood. Die aanvallers het daarna in ’n onbekende voertuig, wat glo die bus agtervolg het, gevlug.
Mokopane-polisie het twee sake van moord en een van roof geopen. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Enigiemand met relevante inligting word gevra om sers. Matsipi Makwela by 076 786 1447 te bel.





