MPUMALANGA. – ’n Gewapende roof en ontvoering het Woensdagaand tydens ’n kerkdiens in Klipfontein, Witbank plaasgevind. Sowat vyf gewapende verdagtes het die perseel binnegestorm en gemeentelede met vuurwapens gedreig. Die slagoffers is vasgebind, beroof en ontvoer.
Brig. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring nege mense, insluitend die pastoor en ouderlinge, is met kabelbinders vasgebind en van selfone, beursies, bankkaarte, skootrekenaars en ’n rekenaarskerm beroof. Die verdagtes het ook motorsleutels en PIN-kodes geëis, waarna die nege mense in drie van hul eie voertuie na ’n beboste gebied ontvoer is. Twee verdagtes het agtergebly om die res van die gemeentelede op te pas.
Danksy vinnige samewerking tussen die polisie en Tracker Connect is al drie voertuie teruggevind – ’n Mercedes-Benz in Vosman waar ’n 21-jarige verdagte in hegtenis geneem is, ’n VW Polo verlate in Vosman en ’n Isuzu KB-bakkie in Silverton, Gauteng, waar ’n 27-jarige verdagte aangekeer is. Die ontvoerdes, van wie een geringe beserings opgedoen is, is ongedeerd in die bosse in Kromdraai gevind.
Genl.maj. Zeph Mkhwanazi het die ondersoekspan geprys en beklemtoon dat die polisie toegewyd bly om die oorblywende verdagtes vas te trek.





