VRYSTAAT. – ‘n Seun (8) van Ladybrand en sy ma se lewens het op 9 September handomkeer verander met die hulp van polisielede wat tydens operasie Vala Umgodi ontplooi was.
Lt.kol. Amanda van Wyk het vertel lt.kol. Tume Ramahlaha van die grenspolisie in die Vrystaat was besig om te draf toe hy paaie kruis met die seun en sy ma, wat vir kos in rommel gegrawe het. Hy het gestop en met hulle gesels en vasgestel dat hulle dae laas geeët het. Die seun het ook nie skoolklere gehad nie en was nie daarsonder in die skool toegelaat nie.
Dit was boonop die jong seun se verjaardag. Sonder huiwering het die polisielede, onder leiding van kapt. Cilliè Truter en die res van die grenspolisielede saamgespan en kostes gedeel om dit ‘n spesiale dag te maak. Die seun is met ‘n skooluniform, ‘n haarsny, nuwe klere, skoene, speelgoed en ‘n verjaardagkoek verras.
“Daar is geen groter roeping as om ons gemeenskappe van diens te wees nie. Ons word ontplooi om onwettige mynbedrywighede in die Vrystaat te bekamp, maar ons sal nie ons arms vou wanneer kwesbare gemeenskapslede ons hulp nodig het nie,” sê Truter.
Na die partytjie is die gesin deur die polisielede by hul sinkhuis in ‘n informele nedersetting besoek. Van Wyk sê voorts die departement van maatskaplike ontwikkeling sal seker maak die seun het toegang tot skoolonderrig.