GAUTENG. – ‘n Gemeenskapspatrolleerder van Sektor 4 in Krugersdorp is Vrydag grusaam in sy tuin vermoor.
Op die betrokke GPF se Facebook-blad word individue herinner om nie werkers van die pad af te huur nie. Volgens die plasing het die patrolleerder glo juis só hulp vir sy tuin bekom.
Kol. Dimakatso Nevhuhulwi sê aan Nuusflits die polisie ondersoek sake van moord en huisroof nadat ‘n man (54) op 17 Januarie in Krugersdorp beroof en vermoor is. Die klaagster het omstreeks 16:00 tuis gekom en haar bakkie ongesluit in die oprit aangetref. In die huis het een van haar honde dood in die sitkamer gelê. Haar slaapkamer was geplunder en sy kon nie haar man opspoor nie. Die polisie is ontbied en tydens ‘n soektog is haar man se liggaam in die tuin ontdek waar dit met takke bedek is.
Nevhuhulwi bevestig nog geen arrestasies is gemaak nie.