GAUTENG. – Gr. 8-leerders wat weens ‘n tekort aan plek nie in Hoërskool Birchleigh in Kempton Park geplaas kon word nie, gaan glo in laerskole in die omgewing geplaas word.
Solidariteit het bekommerd op die besluit van die departement van basiese onderwys reageer.
Die betrokke laerskole is volgens ‘n verklaring wat deur Solidariteit vrygestel is eers op 9 Januarie van die besluit in kennis gestel. Mobiele klaskamers wat die leerders moet akkommodeer, sal glo by die laerskole afgelaai word.
Birchleigh akkomodeer hoër- sowel as laerskoolleerders.
Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die Skoleondersteuningsentrum, sê hierdie besluit van die departement is nie prakties haalbaar nie. Laerskole kan nie hulle roosters op hierdie wyse aanpas nie en boonop is die beskikbaarheid van onderwysers, hulpbronne en geriewe nie in ag geneem nie.
Soortgelyke situasies moet op versoek van Solidariteit aan hulle rapporteer word.
FiND iT het kommentaar van die Gauteng-onderwysdepartement gevra.
Lees die volledige verklaring van Solidariteit hier onder:
Skole gedwing om departement se gemors met gr. 8-plasings skoon te maak
Solidariteit se onderwysernetwerk en die Skoleondersteuningsentrum (SOS) is diep bekommerd oor die Departement van Basiese Onderwys se besluit om gr.8-leerders van ʼn oorvol hoërskool in Kempton Park na laerskole in dieselfde omgewing te verplaas.
Dié reeds vol laerskole is op 9 Januarie en kort voor die aanvang van die nuwe skooljaar in kennis gestel dat mobiele klaskamers by dié skole afgelaai sal word. Dit is om die ongeplaaste leerders van Hoërskool Birchleigh te akkommodeer.
Dié laerskole, wie se 2024-beplanning wél gedoen is, moet nou vir die gebrekkige beplanning van die departement opdok.
Solidariteit se onderwysernetwerk veroordeel hierdie praktyk ten sterkste. Johan Botha, adjunkhoofsekretaris by Solidariteit, benadruk dat skole reeds verlede jaar hulle kurrikulumbeplanning en veiligheidsmaatreëls vir 2024 afgehandel het.
“Om nou sulke besluite te neem is eenvoudig roekeloos. Dit spreek boekdele van onbekwame leierskap en bestuur in die departement, wat leerders en werknemers se welstand in die gedrang plaas,” sê Botha.
Ook Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die Skoleondersteuningsentrum (SOS), het sterk beswaar gemaak teen die gebruik van mobiele klaskamers deur skole. Sy sê dat hierdie benadering nie net bouregulasies oortree nie, maar dat dit ook nie in die beste belang van die huidige en nuwe leerders is nie.
“Dit is alles die gevolg van vrotsige beplanning deur die Departement van Basiese Onderwys (DBO). Die DBO weet al maande lank van hierdie probleme, en nou, net drie dae voor die skool begin, is dit skielik ʼn krisis,” het Buys gesê.
Buys beklemtoon dat dit prakties onmoontlik is vir laerskole om gr. 8-leerders by bestaande skoolroosters in te pas. Volgens haar is die besluit om dié “oplossing” op skole af te dwing sonder om die beskikbaarheid van onderwysers, hulpbronne en geriewe in ag te neem onaanvaarbaar.
Botha sê Hoërskool Birchleigh se probleem is veral teleurstellend aangesien die skool ʼn hoër- en ʼn laerskool bedien, en die departement dus vanaf dié leerders se gr. 1-jaar van die verwagte leerdergetal vir 2024 bewus moes wees.
“Die Solidariteit Onderwysernetwerk is verder besorg oor die veiligheid van sowel die onderwysers as die kinders by die skole wat nou moet pa staan vir ander se agterlosigheid.
“Solidariteit se onderwysernetwerk sal optree en ingryp en sal skole ondersteun wat hierdeur benadeel word. Ons wil ook skole aanmoedig om stappe te neem teen die departement se minagting van veiligheidsmaatreëls van leerders en onderwysers,” het Botha gesê.
Skole word versoek om Solidariteit in kennis te stel indien soortgelyke voorvalle van leerderplasings aan die begin van die skooljaar plaasvind.
Bron: Solidariteit
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel





