Van 9 tot 13 September kan jy tydens die 19de jaarlikse SA Nasionale Parkweek gratis toegang tot sekere parke geniet. Die tydperk is by sekere parke tot 14 en 15 September verleng.
SANParke sê die week wat jaarliks plaasvind, sal op 8 September by Marakele Nasionale Park afskop. Die park is ongeveer 12 km vanaf Thabazimbi, in Limpopo, onderweg na Alma geleë en is in 1994 gevestig.
Die tydperk vir gratis toegang geld vir die meeste van die 21 nasionale parke, maar nie vir almal nie.
SANParke herinner die gratis toegang sluit nie gratis akkommodasie en toeriste-aktiwiteite in nie. Besoekers wat belangstel om van hierdie geleentheid gebruik te maak, word gevra om die Events-blad van SANParke te besoek.
Sedert SANParke die week in 2006 ingestel het, was daar ‘n toename in dagbesoekers by die parke.
Die suksesvolle instelling voorsien opvoeding en bewusmaking oor Suid-Afrika se inklusiewe benadering tot bewaring van Suid-Afrika se trotse natuurlewe.
“Alhoewel dit ‘n geleentheid bied om Suid-Afrika se ryk natuurlike en kulturele erfenis te ervaar, word die aandag ook gevestig op die volhoubare ontwikkelingspraktyke wat moontlik gemaak word deur vennootskappe met sleutelrolspelers soos gemeenskappe wat langs nasionale parke woon, besighede, wetenskaplikes en toeriste.”





