ISRAEL. – Die seiljag van die klimaat-aktivis, Greta Thunberg, en 11 ander mense is deur die Israeliese weermag gekeer waar dit op pad was na Gasa om humanitê hulp te verleen. Israel blokkeer nou al ‘n geruime tyd sodanige hulp.
Lees ook: Gyselaar se liggaam gevind in Gasa
Thunberg en haar reisgenote op die seiljag, genaamd Madleen (wat deur die Freedom Flotilla Coalition besit word), het ’n “simboliese hoeveelheid hulp” op die seiljag gehad wat hulle vandag wil aflewer. Die plan was glo om internasionale aandag op die humanitêre krisis in Gasa te vestig.
Die Freedom Flotilla Coalition het aangekondig dit het kontak met die seiljag verloor en dat die mense op die seiljag “ontvoer” is. Kort daarna het die Israeliese buitelandse ministerie gesê die “selfie seiljag” van die “beroemdes” is veilig op pad na Israel se kus. Die Israeliese regering praat van die “selfie seiljag” omdat Thunberg-hulle gereeld foto’s van hulleself op sosiale media plaas. Die ministerie het in ’n plasing op sosiale media “Greta en die ander” daarvan beskuldig dat hulle “media-provokasie wil skep om publisiteit te kry”.
Die minister van verdediging, Israel Katz, het Sondag gesê, “Aan Greta, die anti-semitis en haar vriende, propaganda-skeppers vir Hamas – ek sê duidelik: jy sal goed doen om terug te draai want jy gaan nie by Gasa uitkom nie. Israel sal optree teen enige poging om die blokkade te breek of ’n terreurorganisasie te help – op see, lug of land”.
Bronne: The Independent, The Mirror, New York Times
Lees ook: Gyselaar se liggaam gevind in Gasa





