*PERSVERKLARING
’n Doelmatige, doelgerigte benadering is dringend nodig om die groeiende agterstand van operasies in die Noord-Kaap aan te spreek.
Dr. Isak Fritz, LPW, het gesê: “Die agterstand in operasies het sedert verlede jaar meer as verdubbel. In Mei 2023 het Maruping Lekwene, LUR vir Gesondheid, gesê die agterstand staan op 4 000. Teen Junie 2023 het die syfer na 6 373 toegeneem. Dit het teen die einde van September tot 7 497 gegroei en, volgens die jongste derde kwartaalverslag, het dit verder opgeskiet tot 8 621 teen die einde van Desember 2023.”
“Die kommerwekkende groei van die operasie-agterstand kan nie meer hoofsaaklik aan die Covid-pandemie toegeskryf word nie. Alhoewel dit die agterstand vererger het, het ‘n aantal ander faktore ‘n rimpeleffek veroorsaak. Dit sluit in watertekorte en kragkrisisse sowel as die voortdurende gebrek aan gespesialiseerde teaterpersoneel.”
“Die ernstige gebrek aan infrastruktuuronderhoud, veral die foutiewe verwarmingsventilasie- en lugversorgingstelsel by Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal (RMSH), is ook nadelig vir die chirurgielys. Weens infrastruktuurkwessies is slegs tussen een en vier teaters op enige gegewe tydstip in werking, al het die hospitaal nege teaters. Die toenemende gebrek aan operasionele teaters maak die gebruik van ‘n Gauteng-gebaseerde Medicomed, teen ‘n koste van R400 000 per maand om met ortopediese operasies by die hospitaal te help, tot niet.”
“Dit is onmenslik dat daar pasiënte is wat al langer as 18 maande in die hospital wag vir operasies soos heupvervangings. Sommige mense wag tot vyf jaar vir die verwydering van hul katarakte. Baie mense sterf voordat hulle die geleentheid kry om geopereer te word. Anders se lewens word ontwrig. Dit veroorsaak aansienlike trauma vir hulle en hul gesinne. Sommige van hulle is ook broodwinners. Dit vererger reeds uiterste vlakke van armoede.”
“Dit is duidelik dat ‘n ander benadering nodig is om die aantal chirurgie-agterstande in die provinsie, wat absoluut hand uit geruk het, aan te spreek. Die kontrak vir die chirurgie-agentskap moet dringend hersien word; addisionele teaterverpleegkundiges moet aangestel word; kritieke infrastruktuur soos die lugversorgingstelsel moet behoorlik herstel word; die ander stagnerende teaters moet ook geoperasionaliseer word en nodige aanstellings moet gemaak word om voorsiening te maak vir hierdie broodnodige uitbreiding van teaterdienste. Fasiliteite vir chirurgiese herstel moet ook uitgebrei word.”
“Tensy hierdie maatreëls geïmplementeer word, sal die chirurgiese agterstand aanhou toeneem en mense se lewens vernietig en selfs voortydig beëindig weens die dodelike gebrek aan gesondheidsorgdienste by RMSH.”
“Slegs die Demokratiese Alliansie (DA) sal Suid-Afrikaners kan red van ‘n mislukte openbare gesondheidstelsel wat veroorsaak word deur vaardigheidstekorte en vertragings in die instandhouding van gesondheidsinfrastruktuur.”
*PERSVERKLARING
Lees ook: Uitleweringsaansoek ingedien vir AKA-moordverdagtes in Eswatini





