ADELAIDE, AUSTRALIË. – ’n Tienerseun (16) is Sondagmiddag deur ’n witdoodhaai gebyt wat hy tydens ’n visvanguitstappie gevang het.
Die voorval het in Suid-Australië, ’n ent van die Adelaide-kus af by Glenelg Tyre Reef, plaasgevind. Nathan Ness was besig om saam met sy pa en sussie in ’n klein boot vis te vang toe hy die haai ingekatrol het.
Volgens Nathan se pa het hy ‘n tang gebruik om die haak uit die haai se bek te haal voordat hy hom kon teruggooi. Net toe hy die haai wou teruggooi, het die haai omgeswaai en sy tande om Nathan se bene geslaan.
Die haai het egter weer dadelik die tiener se bene gelos en is in die water teruggegooi.
Hulle het hulle terug na die land gehaas, waar Nathan mediese behandeling vir twee groot wonde aan sy bene ontvang het. Daarna is hy na die Royal Adelaide-hospitaal vervoer.


Bronne: ABC News, 9 News





