GAZA. – Hamas het aangekondig dit gaan die Israeli-Amerikaanse gyselaar, Edan Alexander, vrylaat as deel van die pogings om ’n skietstilstandooreenkoms te bereik. Alexander is die laaste lewende Amerikaanse burger wat gyselaar in Gaza gehou word.
Lees ook: Verhoor om Menendez-broers te hervonnis vind volgende week plaas
Die aankondiging oor die welwillendheidsgebaar is gemaak voor pres. Donald Trump se besoek aan die Midde-Ooste op Dinsdag. Hamas is in direkte onderhandelinge met ’n Amerikaanse administratiewe amptenaar in Katar. Daar sal vandag nog samesprekings wees om die proses te finaliseer om Alexander te laat gaan, wat sal vereis dat die Israeliese weermag aanvalle op die grond sowel as in die lug stop.
Hamas wil ook humanitêre hulp aan Gaza toegelaat hê. Gaza is nou reeds 70 dae onder Israeliese beleg.
Benjamin Netanyahu se kantoor het gesê die vrylating van Alexander is te danke aan militêre druk op Hamas en dat voorbereidings getref word om die gevegte op ’n groter skaal voort te sit. Volgens die kantoor sal voorbereidings getref word om te verseker dat Alexander veilig vrygelaat word.
Israel het gesê dit gaan enige onderhandelinge aangaande ’n skietstilstand “onder vuur uitvoer, gebaseer op die toewyding om alle mikpunte van die oorlog te bereik”.
Hamas het al in die verlede gesê dit sal net instem tot ’n ooreenkoms wat die einde van die oorlog insluit, ’n voorstel wat herhaaldelik deur Netanyahu verwerp is.
Bronne: BBC, DW – South Africa, Sky News
Lees ook: Verhoor om Menendez-broers te hervonnis vind volgende week plaas





