GASA. – Hamas het in ’n verklaring gesê dit het ingestem tot nuwe voorstelle vir ‘n skietstilstandooreenkoms wat deur Katar en Egipte voorgestel is.
Lees ook: Betogings in Israel duur voort
Basem Naim, ’n senior lid van Hamas se politieke tak, het op sosiale media gesê: “Die beweging het die nuwe voorstel van onderhandelaars aanvaar. Ons bid dat God die vlamme van die oorlog oor ons mense sal blus”.
Volgens twee Israeliese beamptes aan CNN het Israel Hamas se voorstel van die onderhandelaars ontvang. Een van die beamptes het gesê die regering se posisie het nie verander nie; dit eis steeds dat alle gyselaars vrygelaat moet word, Hamas moet hulle wapens neerlê en Israel moet beheer oor Gasastad neem.
Met die nuwe voorstel sal 10 lewende gyselaars en 18 oorlede gyselaars geruil word vir 140 Palestynse gevangenes wat lewenslange tronkstraf uitdien en 60 Palestynse gevangenes wat ’n vonnis van meer as 15 jaar uitdien. Israel sal ook alle Palestynse minderjariges en vroulike gevangenes vrylaat en humanitêre hulp in Gasa toelaat.
Die nuwe voorstelle herinner aan die voorwaardes wat vroeër deur die Amerikaanse spesiale gesant, Steve Witkoff, gestel is, wat deur Israel aanvaar is.
Bronne: BBC, CNN, The Economic Times
Lees ook: Betogings in Israel duur voort





