KWAZULU-NATAL. – Twee “mensehande”, wat by die voorarms afgekap is, is Woensdag langs ’n pad in Trenance Park gevind. Of so is daar gedink. Intussen het lykskouers bevestig die afgekapte hande is inderwaarheid rekwisiete (props).
Lt.kol. Paul Magwaza, polisiewoordvoerder, het ook bevestig dit is nie “regte” hande nie. In ’n video wat vrygestel is, is staatspatoloë te sien wat die hande ondersoek.
Reaction Unit South Africa (Rusa) het Woensdag in ‘n sosialemediaplasing gesê dié diens is ontbied nadat ’n koerantverspreider gesê het dat hy ledemate, moontlik van ’n mens of dier, in ’n bebloede wit lap toegewikkel gesien het. Reaksiebeamptes het kort ná 12:00 in Oreganstraat aangekom en die hande naby ’n laerskool se grensmuur gevind. Hulle het die gebied vir ‘n liggaam deursoek. Rusa het die “toneel” aan Verulam-polisie oorhandig.
Die hande is deur die polisie na die Ethekwini-distrik se staatspatoloog geneem, waar dit bevestig is dat die realistiese ledemate van rubber gemaak is.





