MPUMALANGA. – ’n Soektog is begin nadat ’n helikopter met vier mense aan boord in die Krugerwildtuin vermis geraak het. Pogings om met die bemanning in verbinding te tree, het misluk, vermoedelik weens swak sein en omdat die helikopter moontlik laag gevlieg het.
Brig. Donald Mdhluli sê die helikopter het Maandagoggend omstreeks 09:00 tydens ‘n roeteine-operasie opgestyg, maar het nie weer teruggekeer soos verwag nie. Aan boord was ’n vlieënier, twee polisie-ondersoekbeamptes en ’n ondersoeker van omgewingsmisdaad.
Die span was besig met ’n ondersoek nadat ’n karkas in die park aangemeld is. Owerhede het eers later die dag besef dat iets fout is, waarna ’n soektog na die helikopter en die insittendes onmiddellik van stapel gestuur is. ’n Tweede helikopter en hommeltuie is ontplooi om te help soek, maar swak weer het die lugoperasie bemoeilik en die helikopter moes onttrek word. Die hommeltuie het egter deur die nag met die soektog aangehou.
Die polisie sê die soektog sal met bykomende hulpbronne en personeel voortgesit word, terwyl steeds gehoop word dat die vier insittendes veilig opgespoor sal word.





