‘Hoe ek ooit weer sou heel word, het ek nie geweet nie‘ – aanrandingslagoffer vertel

Lees ook :

Deur Anita van Niekerk vir LiG

“Waar sien jy jou oor tien jaar? Gaan maak ’n lysie,” het die pastoor gesê.

Wat ’n belaglike versoek! het sy gedink. Sy sien nie eens kans vir môre nie; wat nog van ’n dekade die toekoms in … Sy het nogtans ’n paar dinge gaan neerskribbel: herstelde familieverhoudings, ’n vaste werk, om getroud te wees, om ’n ma te wees …

Maar wat help dit tog! Al hierdie dinge is onmoontlik, het sy moedeloos gedink en die lysie diep gebêre. Wat is die kanse dat goeie dinge met iemand soos sy gebeur, iemand met haar soort verlede? Sy was eens op ’n tyd ’n rebel en ’n ateïs, sy het pas uit ’n gewelddadige verhouding ontsnap. Boonop sukkel sy met angsaanvalle. ’n Normale lewe is nie vir iemand soos sy beskore nie.

LEES OOK: Vrou gryp weer na dwelms ná vyf geliefdes sterf: ‘Maar dié keer het ek die oplossing vir verslawing gevind …’

Gelukkig het God van beter geweet. Marinda Kriel is vandag ’n boekhouer wat in Roodepoort woon. Sy dink ver terug, en vertel:

Die lewe se donker kant

Toe ek 16 was, het ek gedink ek weet alles. Op 18 het ek geweet ek weet alles. Op 24 was ek bevoorreg genoeg om te besef ek weet eintlik niks. En in dié proses het my lewe ingrypend verander.

Terugskouend kan ek sien hoe die uitdagings in my kinderjare my keuses beïnvloed het en hoe dit my rebelsheid aangevuur het. My ouers is geskei en die impak daarvan het daartoe gelei dat ek reeds op skool na liefde gaan soek het, op al die verkeerde plekke en by al die verkeerde mense. Later was rook, drank, klubs en dagga deel van my daaglikse bestaan.

Iewers in my grootwordjare het ek wel my hart vir die Here probeer gee, met die hoop dat alles by die huis sou regkom. Dit het nie. “Hy bestaan nie,” was my gevolgtrekking. En ek het my nuwe identiteit as ateïs met trots begin dra. Ek het Christene gespot omdat hulle “in ’n feëverhaal glo wat niks beteken nie”.

Ek was hard, liefdeloos en hardkoppig. Ander se menings en gevoelens het niks beteken nie; alles het gegaan oor wat ék wou doen en hê. Die lewe se donker kant het my aangetrek.

My arme ma het probeer keer, my probeer waarsku teen die kêrel met die opvlieënde geaardheid. Natuurlik wou ek dit nie hoor nie. Ek was verlief en ek het van Gauteng af Kaap toe getrek, waar ons by sy ouers gaan woon het.

‘Vertel dit vir enigiemand en ek maak jou dood’

Aanvanklik maak jy die ander een se jaloesie en humeurigheid af as “’n slegte oomblik”. Later is dit “’n slegte dag”. Maar dan word dit ’n patroon. En jy word wysgemaak dat jý die oorsaak is. Jy is die probleem.

Ja, dis jou skuld dat hy so kwaad word. En deurentyd hoop en glo jy dat dit môre beter sal gaan.

Sy gunstelingmetode was om my aan die keel te gryp en te dreig: “Vertel dit vir enigiemand en ek maak jou dood.” Ek het soos ’n gevangene begin voel en het later vir my lewe gevrees.

Hy het graag gesê dat die enigste manier waarop ek weer by my familie sal uitkom in ’n boks sal wees. Omdat hy op ’n keer reeds ’n mes teen my keel gedruk het, het ek hom geglo.

Vrees is ’n verlammende ding. As jy dit toelaat om te groei, oorweldig die angs en die magteloosheid jou totdat dit later jou hele menswees verswelg. Ek het al my selfvertroue verloor en was daarvan oortuig dat ek niks werd is nie. My hele lewe het ’n diep, donker put geword, en ek het ál verder daarin weggesak.

Dit was in hierdie desperate tyd dat ek na God begin roep het, die God waarin ek nie geglo het nie. Ek het gesmeek: “Ek weet nie of U daar is nie, ek weet nie of U my kan hoor en of U omgee nie. Maar help my net! Asseblief!”

Sonder dat ek dit besef het, het my gees begin ontwaak  Ek het na die Here geroep. Ek het gebid en begin om my Bybel te lees, elke dag, sommer van Genesis 1 af. Al het ek dit nie verstaan of onthou nie. My hoop was dat as ek die regte dinge doen, die regte dinge sou gebeur.

Gelukkig gee die Here tweede, derde en vyfde kanse. Ek het begin vra vir spesifieke tekens wat my sou lei om op die regte dag en op die regte oomblik my goed te vat en uit die huis te trek.

Toe daardie dag uiteindelik aanbreek, was my kêrel so woedend dat hy my foon stukkend gegooi het. Maar hy het nie sy hande vir my gelig nie. Dit was ’n eerste, en vir my ’n bewys dat die Here betrokke was.

Verniel maar veilig

Deur ’n wonderwerk het ek uiteindelik by my ouers en familie in Gauteng aangekom. Ons verhouding was stukkend en ek was emosioneel verniel, maar ten minste was ek veilig. 

Hoe ek ooit weer sou heel word, het ek nie geweet nie.

LEES DIE RES VAN HIERDIE AANGRYPENDE GETUIENIS HIER


Vrywaring: Nuusflits publiseer advertensies en geborgde inhoud vir bemarkingsdoeleindes. Die sienings en aansprake wat in advertensies geuiter word, weerspieël nie die standpunte van Nuusflits, sy redaksie, of enige van sy affiliasies nie.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief