OOS-KAAP. – Die Gqeberha-polisie is bewus gemaak van dreigemente om vragmotors op die R335 (Addo-weg) weens die gebruik van buitelandse bestuurders aan die brand te steek.
Kapt. André Beetge, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring verskeie vervoermaatskappye het beweer hulle is geïntimideer om nie hul vragmotors te gebruik nie, anders sou die voertuie gestop en aan die brand gesteek word. Die dreigemente word toegeskryf aan ’n groep wat ontevrede is oor die gebruik van buitelandse bestuurders. Sakepersele wat met geweld gedreig is, word aangemoedig om sake te registreer.
Genl.maj. Vuyisile Ncata, Nelson Mandelabaai-distrikkommissaris, het gesê dit kan nie toegelaat word dat wetsgehoorsame burgers en sakepersele op hierdie wyse geïntimideer word nie. Volgens Ncata word die polisie en veiligheidsvennote in die betrokke gebied ontplooi om enige potensiële geweld stop te sit en die veiligheid van alle motoriste en vragmotors te verseker.
Besighede wat met geweld gedreig is, word aangemoedig om sake te open. Ncata waarsku verder dat enigeen wat ander se eiendom beskadig, die volle krag van die wet sal ervaar.





