Hoër kragtariewe: AfriForum sit weer vir NERSA ore in hof aan

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

AfriForum het sorg gedra dat miljoene kragverbruikers ‘n sug van verligting kan slaak. ‘n Stokkie is voor NERSA se verlof tot ‘n appèlaansoek gesteek, toe dit deur die Gautengse hooggeregshof van die hand gewys is.

Verbruikers is ‘n onrealistiese toename in kragtariewe gespaar.

AfriForum sê die hof het in Junie beslis NERSA se oorweging vir munisipaliteite om kragtariewe te verhoog, is onwettig en ongeldig. Daar was vooraf geen vereiste kostestudie gedoen nie.

Altesaam 178 gelisensieerde elektrisiteitsverspreiders het egter op 1 Julie verhogings ingestel, waarvan 66 wel ‘n kostestudie gedoen het en 112 munisipaliteite tans verhoogde kragtariewe van verbruikers hef.

“Vandag se uitspraak bepaal dat die hooggeregshofuitspraak wat in Junie in AfriForum se guns gemaak is, geïmplementeer moet word,” sê Morné Mostert van AfriForum se regeringsake, wat bevestig die implementering sal gemonitor word.

’n Skrywe vir terugbetaling aan verbruikers wat slagoffers van die verhoogde tariewe was, sal aan die energiereguleerder gerig word.

Lees AfriForum se volledige verklaring hier onder:

Miljoene kragverbruikers sal baat by beslissing – AfriForum

’n Reuseoorwinning in die belang van miljoene munisipale kragverbruikers is, volgens die burgerregteorganisasie AfriForum, vandag in die Gautengse Hooggeregshof behaal. Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) se planne om onregmatige en ongeldige munisipale kragtariefverhogings deur te druk, is vanoggend in die wiele gery toe hul aansoek om verlof tot appèl van die hand gewys is.

Dit volg nadat die hooggeregshof in Junie vanjaar in AfriForum se guns beslis het en bevestig het dat NERSA se besluit om munisipaliteite se aansoeke om kragtariefverhogings sonder die vereiste kostestudies te oorweeg, onregmatig én ongeldig is.

Volgens Morné Mostert, AfriForum se bestuurder van Plaaslikeregeringsake, is die inhandiging van kostestudies ’n vereiste komponent van munisipaliteite se aansoeke om tariefverhogings wat deur die Wet op Elektrisiteitsregulering 4 van 2006 voorgeskryf word. Kostestudies is van kritieke belang omdat dit ’n duidelike uiteensetting gee van wat munisipaliteite se tariewe moet wees om die diens behoorlik te kan lewer en netwerke in stand te hou.

Munisipale kragtariefverhogings is egter op 1 Julie vanjaar landwyd by 178 gelisensieerde elektrisiteitsverspreiders geïmplementeer, ten spyte daarvan dat slegs 66 verspreiders kostestudies gedoen het. Minstens 112 munisipaliteite hef dus reeds langer as ’n maand lank onregmatige kragtariewe van miljoene verbruikers.

Ons besef dat hierdie beslissing ’n wesenlike impak op munisipaliteite se begrotings gaan hê, maar die lyn is nou in belang van verbruikers getrek wat al jare lank as kontantkoeie leeg gemelk word deur onbeholpe munisipaliteite.

Vandag uitspraak bepaal dat die hooggeregshofuitspraak wat in Junie in AfriForum se guns gemaak is, geïmplementeer moet word. Daarvolgens moet alle munisipaliteite wat nie kostestudies ingehandig het nie, weer die kragtariewe wat vir die 2023/2024- finansiële jaar goedgekeur is, hef. Aansoeke om kragtariefverhogings vir 2024/2025 sal, kragtens die uitspraak, wel heroorweeg word indien die betrokke munisipaliteite die nodige kostestudies binne 60 dae indien. 

AfriForum sal intussen ’n dringende skrywe aan die energiereguleerder rig en eis vir ’n plan van aksie rakende die terugbetaling van oorverhaling aan verbruikers. Die organisasie sal ook ’n volledige lys van munisipaliteite wat nog nie kostestudies ingedien het nie, aanvra sodat die implementering van die hofbevel gemonitor kan word.

“NERSA het nou weens wanbestuur vir homself ’n administratiewe nagmerrie op die hals gehaal, want hoewel die fout relatief maklik herstel kan word in die guns van munisipale rekeninghouers, sal dit veel moeiliker wees om die fout vir verbruikers van voorafbetaalde krag reg te stel,” verduidelik Mostert.

“Ons besef dat hierdie beslissing ’n wesenlike impak op munisipaliteite se begrotings gaan hê, maar die lyn is nou in belang van verbruikers getrek wat al jare lank as kontantkoeie leeg gemelk word deur onbeholpe munisipaliteite,” sluit Mostert af.

AfriForum ondersoek intussen maniere waarop verbruikers bygestaan kan word in die geskilproses en sal binnekort ’n aankondiging hieroor maak.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief