KWAZULU-NATAL. – ’n Hoërskoolleerling (17) is Sondag gered nadat sy glo in Blackburn ontvoer is. ‘n Man (30) is in hegtenis geneem. Die redding en inhegtenisname is deur ‘n Rusa-hommeltuigoperateur moontlik gemaak.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê die meisie se familie het die hoofkwartier gekontak en meegedeel dat ‘n onbekende man ‘n losprys van R10 000 vir haar geëis het. Sy is na bewering ontvoer toe sy na ’n plaaslike supermark is om kos te koop. Rusa-beamptes is agt uur later vir hulp gevra, nadat haar familie haar nie kon opspoor nie. Inligting en ’n foto van die slagoffer is versprei en het verskeie leidrade opgelewer, insluitend dat sy in ’n huis in Blackburn aangehou word.
Die volgende oggend is ’n hommeltuig geaktiveer, nadat die reën opgehou het, om waarnemings in ’n landelike gebied wat vir voertuie ontoeganklik was, moontlik te maak. Die hommeltuigoperateur het verdagte bedrywighede geïdentifiseer en lede het te voet na die ligging beweeg. ’n Man wat ‘n informele woonplek by die ligging probeer verlaat het, is in hegtenis geneem is. Die slagoffer se selfoon is in die slaapkamer van die verdagte gevind en die meisie is agter ’n deur in ’n toe kamer aangetref.
Die slagoffer het aan die Rusa-beamptes gesê dat sy glo deur die trollie-assistent van die supermark, wat sy geken het, ontvoer is. Sy is na bewering met ’n vuurwapen gedreig, teen haar wil aangehou en herhaaldelik seksueel aangerand, terwyl die ontvoerder probeer het om R10 000 van haar familie te kry. Die verdagte is aan die polisie oorhandig.





