VSA. – Die hoogste hof in die VSA het die president, Donald Trump, se administrasie toestemming gegee om migrante na ander lande as hulle tuisland te deporteer.
Lees ook: Betogings teen deportasie in Amerika versprei
’n Hofbevel wat die regering daarvan weerhou het om migrante te deporteer sonder die geleentheid om vir owerhede te sê wat die gevare is as hulle na ’n ander land gedeporteer word, is omgekeer.
Die saak betrek agt migrante van Mianmar, Suid-Soedan, Kuba, Mexico, Laos en Viëtnam wat in Mei na Suid-Soedan gedeporteer is. Die Trump-administrasie het beweer hulle is “die slegste van die sleg”.
’n Regter van Boston, Brian Murphy, het gesê die deportasie het ’n bevel oortree wat hy in April uitgereik het waarvolgens migrante kans het om beswaar te maak as hulle gemartel of vermoor kan word in ander lande. Die prokureurs vir die migrante het gesê baie van hulle het geen kriminele skuldbevindings nie, terwyl die Trump-administrasie beweer het hulle het “misdade”, insluitend moord, brandstigting en gewapende roof, in die VSA gepleeg.
Bronne: BBC, Business Insider Africa, New York Post





