MPUMALANGA. – Rose Mnisi (39), ‘n werknemer by ‘n plaaslike hospitaal, is glo Woensdag in Lydenburg met menslike weefsel (plasentas) in haar besit in hegtenis geneem. Mnisi het Donderdag in die hof verskyn.
Brig. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die Lydenburg-honde-eenheid was volgens ‘n verslag besig met roetinepatrollies toe hulle ’n wenk ontvang het van ‘n vrou wat glo na kopers vir menslike weefsel soek. Sy was glo met ‘n geleentheid onderweg na Nelspruit (Mbombela).
Polisiebeamptes het die inligting ondersoek en ‘n vrou wat aan die beskrywing voldoen, opgemerk waar sy in Voortrekkerstraat in Mashishing loop. Toe die polisie haar nader en die weefsel in haar besit vind, het sy bevestig sy werk as ‘n skoonmaker in ‘n kraamsaal. Die verdagte is vir die onwettige besit van menslike weefsel aangekla en die inhoud van die sak is vir forensiese ontleding gekonfiskeer.
Die polisie sluit soos wat die ondersoek vorder nie die moontlikheid van bykomende aanklagte uit nie. Ná verskyning in die Mashishing-distrikshof is die saak vir verdere ondersoek en borgtogaansoek tot 25 September uitgestel. Mnisi bly in aanhouding.





