Hostelmassamoordenaars tot 40 lewenslange vonnisse en meer gevonnis

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

KWAZULU-NATAL. – Vyf mans wat op 3 Junie 2023 agt mense by die Glebelands-hostel in Umlazi doodgeskiet het, is elkeen tot lewenslank vir elk van die moorde én bykomende 15 jaar gevangenisstraf gevonnis. Die vonnis is op Woensdag deur die Durbanse hooggeregshof opgelê.

Kol. Robert Netshiunda, provinsiale polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits minstens 12 mans het op die betrokke oggend vroeg in ‘n kamer by die Glebelands-hostel gesit toe hulle deur die verdagtes aangeval en geskiet is. Sewe mense is op die toneel dood en die agtste slagoffer is enkele dae later in die hospitaal aan sy beserings oorlede. Vier ander mans kon ongedeerd ontsnap.

Die provinsiale moord-en-roofeenheid het tydens hulle ondersoek vir Bongile Mabele (35), Bongani Mboyiyane (39), Sibusiso Manyisa (41), Siyamthemba Mthwana (41) en Nkosayikhethi Mjeza (41) in hegtenis geneem. ’n Vuurwapen is in hul besit gevind en ballistiese toetse het bevestig dat dit die wapen was wat tydens die massamoord gebruik is. Die ondersoekspan kon enige borgtogpogings teenstaan met oorweldigende bewyse wat die verdagtes aan die misdaadtoneel gekoppel het.

Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder vir die NVG, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits die oorledenis – Phakamani Lukhozi, Thamsanqa Shongwe, Mpilo Khumalo, Bongani Mkane, Lungani Sikhobi, Yandisa Msungubali, Nkululeko Lukhozi en Mxolisi Mthethwa – en die beskuldigdes was vriende van mekaar. Die oorledenes was ook onderling bekend aan mekaar.

Mabele was die blokvoorsitter vir sommige van die blokke by die hostel en het die daaglikse bedrywighede en toekenning van huisvesting vir dié blokke oorgesien. Sy medebeskuldigdes het hom soms gehelp om dié pligte uit te voer. Phakamani Lukhozi het op sy beurt beheer geneem oor die bedrywighede en huisvesting in ander blokke wat nie onder Mabele se beheer was nie. Weens Phakamani se weiering om beheer aan Mabele oor te gee, het laasgenoemde besluit om hom te laat vermoor. Saam met sy medebeskuldigdes het hy beplan om Phakamani en sy vriende dood te skiet en het die misdaad op die betrokke dag uitgevoer.

Adv. Rakesh Singh het getuienis in die hof gelei. Slagofferimpakverklarings van twee mans wat op die betrokke dag van die voorval teenwoordig was, is ook by die hof ingedien. In sy verklaring het een van die mans aangedui dat hy getraumatiseer is deur die aantal liggame wat hy gesien het. Die ander man het gesê die voorval het vir hom pyn en lyding gebring.

Die NVG het die suksesvolle afhandeling van die saak verwelkom.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief