KWAZULU-NATAL. – ’n Poolse toeris is Maandagmiddag veilig uit die see by Jabula-strand gered. Reuben van der Nest (24) van Hoedspruit het die toeris met behulp van ’n houtstomp as dryfmiddel en bystand van ’n tweede, onbekende man, veilig strand toe gebring.
Craig Lambinon, NSRI-woordvoerder, sê Melinda Snyman, St. Lucia NSRI-stasiebevelvoerder sê die noodspan is om 13:36 geaktiveer ná ’n ooggetuie ’n verdrinking aangemeld het. Reddingswemmers is ontplooi, maar met hul aankoms was die man reeds deur ’n omstander gered. Die pienk NSRI-reddingsboei by die strand was glo nie op sy plek nie.
Die toeris het gesnorkel toe hy in ‘n stroom vasgevang was. Hy is op die toneel ondersoek en was ongedeerd. Die NSRI het die twee mans geloof vir hul vinnige optrede en doen ’n beroep op die publiek om nie reddingsboeie te verwyder nie, behalwe in ’n noodgeval.





