WES-KAAP. – Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) het bevestig die N1-Hugenote-tonnel is sedert vanoggend om 06:00 weer vir verkeer oopgestel. Die tonnel was sedert verlede Vrydag gesluit nadat ’n busbrand binne die tonnel tot noodherstelwerk en veiligheidsinspeksies gelei het.
Volgens Sanral is alle veiligheidskritieke stelsels volledig getoets en funksioneel. Permanente herstelwerk sal oor die volgende maande snags voortgaan om ontwrigting vir motoriste te beperk.
As voorsorg is die snelheidsgrens tydelik na 40 km/h verlaag en motoriste word gevra om versigtig te ry.
Sanral bedank alle noodspanne en die Wes-Kaapse owerhede vir hul samewerking, asook padgebruikers vir hul geduld tydens die sluiting.






