KWAZULU-NATAL. – ‘n Huiseienaar in sy 50’s het vanoggend in die hospitaal aan sy beserings beswyk, nadat hy Donderdag tydens ‘n beweerde huisroof in Westville, Durban, geskiet is.
Volgens Garrith Jamieson van ALS Paramedics het die man se familie die nuus van sy afsterwe bevestig. Paramedici het Donderdag omstreeks 13:30 verskeie oproepe van ‘n skietery by ‘n huis in Badenstraat ontvang.
Die polisie en veiligheidspersoneel was op die toneel teenwoordig waar die huiseienaar met ‘n skietwond aan sy bolyf in ‘n kritieke toestand aangetref is. Hy is op die toneel gestabiliseer en na ‘n nabygeleë hospitaal vervoer, maar het later aan sy beserings beswyk.
“Die presiese omstandighede wat tot die skietery gelei het, is onbekend, maar die SAPD was teenwoordig en sal verder ondersoek instel.”