VRYSTAAT. – ‘n 58-jarige man van Wilgehof is deur sewe verdagtes oorval en onder meer met ‘n panga aangerand nadat hy om water gevra is. Die Parkweg-polisie is op soek na die verdagtes – drie vroue en vier mans – in ‘n saak van huisroof en poging tot moord.
Sers. Mahlomola Kareli, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die polisie het Maandag om ongeeer 14:40 ‘n klagte ontvang. Met aankoms in Wilgehof is die slagoffer met ‘n wond aan die agterkant van sy kop aangetref. Hy is deur paramedici versorg en in ’n stabiele toestand na ’n nabygeleë hospitaal vervoer.
Twee vroue het glo aanvanklik by die slagoffer se huis opgedaag en vir water gevra. Nadat hy hulle water gegee het, is hulle weg, maar kort daarna het dieselfde twee vroue teruggekeer, hierdie keer vergesel van nog ’n vrou en vier mans. Die groep het die huis binnegedring, die slagoffer met ’n panga aangeval en sy hande met ’n elektriese koord vasgebind. Hulle het die huis geplunder en huishoudelike items en klere gesteel voordat hulle gevlug het.
Nog geen arrestasies is gemaak nie.
Die Parkweg-polisie vra die publiek met relevante inligting om speur.kapt. Moseme by 082 526 2713 te bel.





