NOORDWES. – Thapelo Francis Sephiri (27) is Dinsdag deur die Klerksdorp-landdroshof op drie aparte sake van huisroof en inbraak tot 27 jaar tronkstraf gevonnis.
Kol. Adéle Mubrgh sê Sephiri is op 6 Junie 2023 in hegtenis geneem.
Sephiri het gedurende Oktober 2021 by ‘n woonstel in Klerksdorp op die eerste vloer ingebreek deur toegang deur ‘n venster te forseer. Elektriese toerusting, klere en juwele is gesteel.
Gedurende November 2021 het Sephiri weer op ‘n Sondagoggend op die eerste vloer van ‘n woonstel in Klerksdorp toegang deur ‘n venster forseer. Hy het op die man en die vrou in die woonstel toegeslaan en beide met ‘n mes gesteek. Die egpaar se babadogter, wat tussen hulle geslaap het, is nie beseer nie. Die woonstel is egter geplunder en Sephiri het met kontant, persoonlike dokumente en ‘n beursie gevlug.
In nog ‘n voorval dieselfde maand het Sephiri by ‘n kerk in Flamwood ingebreek deur ‘n venster te breek. By die kerk het hy kontant, ‘n omskakelaar en gereedskap gesteel.
Sephiri is positief aan die misdade verbind deur sy vingerafdukke wat op al drie die misdaadtonele gevind is. Die ondersoekbeampte het Sephiri, wat vir nog ‘n inbraak in die polisieselle in Klerksdorp gesit het, in hegtenis geneem. Die vierde saak word steeds in die hof aangehoor.
Vir inbraak en dienstal op die eerste klagte is Sephiri tot vyf jaar gevonnis. Vir huisroof en inbraak op die tweede klagte is hy tot 17 jaar gevonnis en op die aanklag van inbraak by die kerk het hy vyf jaar tronkstraf gekry.
AO Rowan Lourens, die ondersoekbeampte, is deur lt.genl. Sello Kwena, die provinsiale kommissaris, vir sy suskesvolle afhandeling van die sake geprys.





