NOORDWES. – Paul Badenhorst (72) het vandag op aanklag van moord op Frederick Herman Knoetzee (66), sy verhuurder, in die Brits-landdroshof verskyn.
Kol. Amanda Funani sê die saak is vir ‘n formele borgaansoek tot Vrydag uitgestel.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
‘n Verhuurder (72) is in hegtenis geneem nadat sy huurder (66) Sondag op ‘n kleinhoewe buite Hartbeespoortdam, naby Brits, doodgeskiet is. ‘n Geskil het glo oor elektrisiteit en water ontstaan.
Lt.kol. Amanda Funani sê die verhuurder is deur Hartbeespoortdam-polisie en Brits-misdaadintelligensie in Skeerpoort in hegtenis geneem.
“Luidens verslae het die 66-jarige huurder sy verhuurder genader toe hy ontdek het dat daar geen elektrisiteit en water by sy plek is nie. Na ‘n argument tussen die twee ontstaan het, is die verhuurder die huis in en het met ‘n vuurwapen teruggekom en die slagoffer na bewering in sy bolyf geskiet.”
Na die skietinsident het die verhuurder van die toneel gevlug, terwyl die huurder na ‘n hospitaal geneem en met aankoms dood verklaar is.
Tydens die verhuurder se inhegtenisneming is ‘n vuurwapen gevind wat aan ballistiese toetse onderwerp sal word. Die verdagte sal Woensdag op aanklag van moord in die Brits-landdroshof verskyn.