Action Society het gister amptelik van Ian Cameron afskeid geneem. Cameron was vir die afgelope drie jaar die groep se direkteur van gemeenskapsveiligheid.
Cameron se losmaak van die groep is die gevolg van sy politieke planne. Hy gaan by die Demokratiese Alliansie aansluit. Hy is van mening hy sal sy rol as teenmisdaad-aktivis beter kan vervul met die party as platform.
Volgens Tiaan Esterhuizen, besturende direkteur van Action Society, was Cameron van die begin af ’n steunpilaar wat nooit stilgebly het wanneer iemand vir geregtigheid moes opstaan nie.
“Ons is vol vertroue dat hy die nodige verandering wat elke Suid-Afrikaner verdien, in die parlement en land sal bring,” het Esterhuizen bygevoeg. Hulle het hom van hulle steun verseker.
Cameron het die nuus gehaal oor opspraakwekkende sake waaronder dié van ds. Liezl de Jager. Hy het ook Bheki Cele, polisieminister, voor die hof gedaag nadat dié tydens ’n gemeenskapsvergadering in 2022 op hom gegil het.
“Moet nooit stilbly en terugstaan nie,” het Action Society hom finaal gegroet.
Bronne: Action Society, IOL, The Citizen





