WES-KAAP. – Identikidz-veiligheidsbandjies vir kinders wat die Kersvakansie sekere Kaapse strande besoek, sal vanaf 14 Desember beskikbaar wees.
Daar word beklemtoon kinders op strande is steeds die verantwoordelikheid van ouers en oppassers.
Die bandjie wat met aankoms op sekere strande vir kinders beskikbaar is, het ‘n unieke nommer wat met inligting van die kind se versorger ooreenstem. Die program word ook vir intervensie gebruik om hulporganisasies met verwaarloosde en verlore kinders in kontak te bring. Selfone moet gelaai en byderhand wees, want enige kind wat nie opgeëis word nie, sal aan die departement van maatskaplike ontwikkeling oorhandig word.
Die departement van gemeenskap-, kuns- en kultuurontwikkeling (CACD) sal die bandjies met toestemming van die kind se ouers of versorgers uitreik, met die hereniging help en nou saam met die SAPD, die departement van maatskaplike ontwikkeling en ander wetstoepassingsagentskappe werk.
Die Stad Kaapstad sê in ‘n verklaring die gewilde program word deur die stad se departement van gemeenskap-, kuns- en kultuurontwikkeling (CACD) gekoördineer. 83 beamptes van CACD en ongeveer 200 werkers van die uitgebreide program vir openbare werke (EPWP) sal op die strande aan diens wees.
In Desember 2023 is ten minste 133 730 bandjies aan kinders deur die Identikidz-program uitgereik, waarna 302 met hulle ouers herenig is.
Die Identikidz-program sal op 14, 15, 16, 21, 23, 24, 25, 26, 30 en 31 Desember 2024, asook 1, 4, 5, 11 en 12 Januarie 2025 op die volgende strande van 09:00 tot 18:30 beskikbaar wees:
Grootbaai, (Big Bay), Seepunt en omliggende gebied, Silwerstroom, Kampsbaai, Lagoonstrand, Melkbosstrand, Milnertonstrand, Maiden’s Cove (slegs op 26 Desember en 1 Januarie), Gordonsbaai, Strand, Monwabisi, Harmony Park, Mnandi, Muizenberg, Vishoek en Strandfontein.







