Ronald Matthews (82) en die 77-jarige Amanda (voorheen Homan) het bewys liefde met die eerste oogopslag in jou goue jare is nie taboe nie en het binne twee weke aan mekaar trou beloof.
Wat ‘n beter tyd as die maand van liefde om ‘n troue te kan vier. Liefde is ook nie net vir die jonger geslag nie. Volgens Daleen Gouws, die woordvoerder van Ons Tuis-tehuise, het die besonderse egpaar op 2 Februarie in Parys in die Vrystaat met familielede teenwoordig vir mekaar “ja” gesê.
Volgens Teresa Broodryk, die matrone van Ons Tuis AMOT het die spesiale egpaar mekaar in die gange van die huis leer ken.
Amanda, voorheen van Witpoortjie in Gauteng, was vir 56 jaar lank met haar eggenoot wat drie jaar gelede oorlede is, getroud en het ‘n seun en ‘n dogter.
Ronald se vorige eggenoot is in 2023 oorlede. Eensaamheid het hom na AMOT gelei waar hy weer geluk gevind het. Hy kom van Klerksdorp in Noordwes waar hy ‘n eie vervoerbesigheid bedryf het en ook later met graan, stoet Brahmane en Simmentalers geboer het. Ronald het twee seuns, ses kleinkinders en drie agterkleinkinders.
Gouws vertel die liefde het die twee se tonge behoorlik los gemaak en hulle kuier en gesels een strook deur.
Vyf familielede was gaste op die spesiale troue en as jy gewonder het wat die pasgetroudes oor hul huwelik sê, kyk hier onder.
“Hoeveel tyd het jy nog oor voor die deur toemaak, maak die beste daarvan as jy iemand kry wat jy liefhet,” sê Ronald.
“Ek is dankbaar dat die Here my nog ‘n kans gee om die beste vrou te wees vir my nuwe man,” sê Amanda oor haar nuutgevonde liefde.
Nuusflits wens op Valentynsdag die egpaar die mooiste lewenspad saam toe.
Bron: Daleen Gouws Ons Tuis: AMOT
Volg Nuusflits se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.





