VRYSTAAT. – Twee beweerde inbrekers het hulle rieme styf geloop toe hulle Maandagoggend omstreeks 04:10 in die plafon van ‘n winkel op Reddersburg vasgetrek is.
Sers. Mahlomola Kareli sê die winkeleienaar het Saterdagaand omstreeks 23:45 die polisie ontbied toe ‘n alarm geaktiveer is. Niks was gesteel nie en die verdagtes het van die toneel gevlug.
Toe die alarm weer die volgende oggend vroeg afgaan, het Reddersburg-polisielede, wat van diens was, hulleself aan diens geplaas en saam met buurtwagpatrolleerders en Edenburg-polisielede op die geaktiveerde alarm reageer. Met die besigheid wat omsingel was, het ‘n verdagte deur die dak probeer vlug, maar hy is in hegtenis geneem en sy medeverdagte is ook in die plafon waar hy weggekruip het, vasgetrek.
Tydens die ondersoek is plofstof by die besigheid se kluis gevind en die bomopruimingseenheid het veilig van die toestel ontslae geraak.
Die twee ongedokumenteerde buitelandse beweerde verdagtes, onderskeidelik 23 en 24 jaar oud, sal binnekort vir oortreding van die immigrasiewet en sake-inbraak in die Reddersburg-landdroshof verskyn.





