VRYSTAAT. – Drie verdagtes is deur die Clocolan-polisie in samewerking met plaaswerkers in hegtenis geneem. Die inhegtenisneming volg ná ‘n beweerde huisroof en verkragting Woensdag 10 Desember op ‘n plaas, waartydens ‘n vuurwapen gesteel is.
AO Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring plaaswerkers het ná 22:00 wakker geword van ’n harde klap op die deur en hondegeblaf buite. Een van die werkers het gesien dat die deur oopgeforseer is. Drie verdagtes het die vertrek binnegedring en waardevolle items geëis, maar kon niks kry nie. Een van die vroulike werkers het in ’n kas weggekruip, waarna sy volgens rapportering deur twee van die verdagtes verkrag is. Die verdagtes het daarna te voet gevlug.
’n Voorlopige ondersoek Donderdag het tot die inhegtenisneming van die drie verdagtes by Hlohlolwane naby Clocolan gelei. Twee van die verdagtes is glo werknemers op dieselfde plaas waar die voorval plaasgevind het. Die verdagtes sal na verwagting Maandag op aanklagte van huisroof, verkragting en die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie in die Clocolan-landdroshof verskyn.





