KWAZULU-NATAL. – ‘n Insleepdiensoperateur het net na middernag in vlamme gesterf toe hy ‘n meganies gebreekte vragmotor op die R102 naby die Woodview-begraafplaas wou help.
KZNVIP Protection Services sê die maatskappy se paramedici is saam met ander nooddienste vir hulp na die toneel tussen die Palmview en Phoenix-afritte. ‘n Insleepdiensvoertuig was in vlamme gehul en die bestuurder was in die wrak vasgekeer.
“Insleepwa-operateurs, verbygangers en medici het almal probeer om die brand met brandblussers te blus. Sand en alle ander hulpbronne is gebruik om die bestuurder te bevry, maar ons was onsuksesvol.”
Die vragmotorbestuurder, wat deur die insleepdiensoperateur bygestaan is, het ook ernstige beserings opgedoen en is deur KZNVIP-paramedici gestabiliseer en daarna na ‘n mediese fasiliteit vervoer.
“Daar word geglo dat die insleepdiensoperateur agter die vragmotor, wat gebreek het, geparkeer was. Die staaflig van die operateur se voertuig was aan. ‘n VW Golf het in vlamme uitgebars toe dit die insleepvoertuig teen ‘n hoë spoed getref en in vlamme uitgebars het.”
KZNVIP Protection Services sê volgens getuies op die toneel was die bestuurder van die VW Golf glo onder die invloed van drank en is deur die polisie vir toetsing van die toneel weggeneem.
“As iemand wat die insleepdiensoperateur geken het, kan ek sê hy was ‘n persoon wat sy hele lewe verander het en altyd ‘n helpende hand gebied het aan wie ook al dit nodig gehad het. Sy afsterwe is inderdaad ‘n groot verlies vir die insleepgemeenskap en ons betuig ons innige simpatie met sy familie.”


Foto’s: KZNVIP Protection Services





