Valentynsdag is nie ’n skielike nuwe gebeurtenis op die jaarlikse kalender nie. Die geskiedenis rakende 14 Februarie strek tot die Middeleeue. Ons het gaan oplees oor dít wat jy nie oor Valentynsdag geweet het nie.
1. Valentynsdag is eers vanaf die Middeleeue met liefde en romanse geassosieer. Inwoners van Engeland en Frankryk het aanvanklik geglo dat voëls se amptelike paringseisoen op 14 Februarie begin.
2. Die tradisie om bokse sjokolade as geskenke te gee, is in die 19de eeu deur Richard Cadbury begin. Hy was deel van die bekende sjokoladevervaardigingsfamilie wat ’n groter verskeidenheid sjokolade wou verkoop. Hulle het Valentynsdag as die ideale geleentheid gesien om die kopers se belangstelling te toets.
3. X het nie aanvanklik ’n soen gesimboliseer nie. Mense in die Middeleeue het nie geweet hoe om hulle name te skryf nie en het net die letter X onderaan ’n brief of dokument gemaak. Dit is dan amptelik met ’n soen as teken van lojaliteit geseël.
4. Rooi stokkielekkers was eers mediese suiglekkers. Oliver Chase het aanvanklik die masjien waarmee hy die rooi stokkielekkers vervaardig het, vir die maak van mediese suiglekkers gebruik. Hy het ’n gaping in die mark gesien en dit gevat.
5. Deesdae gebruik geliefdes tegnologie om mekaar ‘n gelukkige Valentynsdag toe te wens. Dit was vir lank die tweede gewildste dag waarop kaartjies oor en weer gestuur is. Kersfees was eerste op die lys.
6. Die eerste Valentynsboodskap is deur Charles, die hertog van Orleans, gestuur. Hy het ’n liefdesgedig aan sy vrou gestuur terwyl hy in die tronk ná ’n oorlog was. Hy het haar eers 15 jaar later weer gesien.
Maak hierdie Valentynsdag jou eie geskiedenis. Vier dit saam met diegene wat naby aan jou hart is.
Bronne: Good Housekeeping, History.com, StyleCraze





