JONGENSFONTEIN, WES-KAAP. – ’n Blou houer wat na bewering skadelike chemiese afval bevat, het onlangs op Jongensfonteinstrand naby Stilbaai uitgespoel.
Die NSRI het inwoners langs die Tuinroete en Suidkus gewaarsku om nie enige blou houer wat op ’n strand of in die see aangetref word, te nader nie.
Volgens die Rampbestuursafdeling in die Tuinroete bevat die blou houer van sowat 200 kg gevaarlike en skadelike chemiese materiaal. “Dit hou nie tans ’n bedreiging in nie.” Die houer sal vandag deur Hazmat se brand-en-reddingspanne vanaf die strand verwyder word.
Daar word beweer dat houers soortgelyk aan die een wat uitgespoel het, gewoonlik in groepe van vier vervoer word. Volgens die NSRI kon daar nie bevestig word of daar nog drie soortgelyke houers in die see ronddryf nie.
’n Ondersoek is na enige vermiste houers vanaf skepe begin, aangesien niks aangemeld is nie.
Indien inwoners of strandgangers blou houers gewaar, moet hulle dit nie nader nie. Die GRDRM moet dadelik by 044 805 5071 gekontak word.
Bronne: NSRI, GRDRM





