INTERNASIONAAL. – Iran dreig om sy olie-uitvoere uit die Golf te stop indien die VSA nuwe ekonomiese sanksies sou instel. Wêreldmarkte wag op besonderhede van Washington oor die nuwe maatreëls.
Scott Bessent, die Amerikaanse tesourie-sekretaris, sal na verwagting vandag besonderhede bekend maak van nuwe sanksies teen Iran. Die maatreëls word deur Amerikaanse owerhede as van die strengste ooit beskryf en is daarop gemik om ekonomiese druk op Teheran verder te verhoog. Abbas Araqchi, Iran se minister van buitelandse sake, het die dreigement van nuwe sanksies as ’n teken van Amerikaanse desperaatheid beskryf en gesê die maatreëls sal volgens hom nie slaag nie.
Die spanning het reeds ’n uitwerking op die wêreld se oliemark. Brent-ruolie het vandag met sowat 1,6% tot $92,90 per vat gedaal, terwyl Amerikaanse West Texas Intermediate-olie met sowat 2% tot $85,32 gedaal het. Die olieprys het egter die afgelope twee weke gestyg namate spanning oor olieverskepings deur die strategiese Straat van Hormoes toegeneem het. Minder as 20 vragskepe het die naweek deur die seestraat beweeg. Asim Munir, Pakistan se weermaghoof, sal na verwagting ook vandag Teheran as deel van diplomatieke pogings besoek om spanning tussen Iran en die VSA te verminder.
Bronne: Bronne: VSA Departement van Tesourie, AP News, Saudi Gazette