Firoz Cachalia, die waarnemende polisieminister, het die proses begin om lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi as die nasionale hoof van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoek (DPCI), beter bekend as die Valke, aan te stel. Die aanstelling is egter nog nie afgehandel nie en moet eers die kabinet se goedkeuring kry.
Kamogelo Mogotsi, ministeriële woordvoerder, sê Cachalia het ’n kabinetsmemorandum ingedien waarin hy die kabinet se instemming met Mkhwanazi se aanstelling versoek. Die memorandum sal by die vroegste moontlike kabinetsitting voorgelê word. Artikel 17CA(1) tot (3) van die Suid-Afrikaanse Polisiedienswet van 1995 bepaal dat die minister die nasionale hoof van die DPCI aanstel met die kabinet se instemming, waarna die aanstelling aan die parlement gerapporteer moet word.
Die Valke ondersoek georganiseerde misdaad, korrupsie en ander ernstige prioriteitsmisdade. Volgens die verklaring is die aanstelling deel van die prioriteite van die polisie se Reset Agenda en daarop gemik om leierskap, strategiese rigting en operasionele doeltreffendheid by die direktoraat te verseker.