ISRAEL. – Duisende Israeliese burgers, insluitend familielede van die Gasa-gyselaars, het die naweek betoog teen die eerste minister, Benjamin Netanyahu, se plan om Gasa oor te neem.
Lees ook: Israel keur volledige oorname van Gasastad goed
Die betogings volg nadat Israel se politieke veiligheidskabinet Netanyahu se plan goedgekeur het om “sekuriteitsbeheer” van Gasa te neem, saam met nog vier beginsels om die oorlog te beëindig.
Betogers het gesê die plan gaan die gyselaars in gevaar stel en dat ’n ooreenkoms met Hamas vir hulle vrylating bereik moet word. Israel se leiers het die kritiek verwerp en Netanyhau het gesê “dit sal help om ons gyselaars te bevry”.
Die Israeliese weermag-personeelhoof, lt.genl Eyal Zamir, het ook Netanyahu se plan teengestaan en gewaarsku om Gasa oor te neem is “gelykstaande aan om in ’n lokval in te loop” en dat dit die lewende gyselaars in gevaar sal stel.
Luidens ’n gesamentlike verklaring deur nege lande, insluitend Duitsland, Brittanje, Frankryk en Kanada, word Israel se besluit vir ’n grootskaalse militêre operasie ten sterkste verwerp en word gesê dat dit die “katastrofiese humanitêre situasie gaan vererger”. Dit is ook gesê enige poging om Gasa oor te neem, is ‘n oortreding van die internasionale wet.
’n Aparte verklaring van meer as 20 lande, insluitend Egipte, Katar en Saudi-Arabië, het Israel se besluit ’n “gevaarlike en onaanvaarbare eskalasie” genoem.
Bronne: BBC, Euronews, The Star
Lees ook: Wêreldleiers kritiseer Israel vir besluit om Gasa oor te neem





