Jaagtog en skietery beëindig misdaadtog

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

OOS-KAAP. – ‘n Vlaag misdade het Vrydagaand na ‘n hoëspoedjaagtog en skietery met die polisie tot ‘n einde gekom. Een verdagte (17) het ‘n skietwond in sy voet opgedoen, drie is in hegtenis geneem, terwyl ‘n vyfde ontsnap het.

Kapt. André Beetge sê misdade, onder andere voertuigkapings en huisrowe, is die week in New Brighton en Kwazakele deur die beweerde verdagtes gepleeg.

Vrydagaand omstreeks 20:00 is die eienaar van ‘n Audi Q3 in Nobatanastraat in Kwazakele met ‘n vuurwapen gedreig en sy voertuig gekaap. Misdaadvoorkomingslede op patrollie het die Audi omstreeks 21:30 opgemerk. ‘n Hoëspoedjaagtog en ‘n oor-en-weer-skietery het gevolg. In Ngenestraat het die bestuurder van die Audi beheer verloor en die voertuig het naby ‘n muur tot stilstand gekom.

Vier verdagtes, tussen 17 en 20 jaar oud, is in hegtenis geneem, terwyl ‘n vyfde verdagte daarin geslaag het om te voet te ontstap. Die verdagte met die skietwond is vir mediese hulp geneem. Beetge sê beslag is gelê op nege vermoedelik gesteelde selfone, ‘n 9 mm-pistool met ‘n magasyn en ammunisie en twee stelle voertuigsleutels wat in die voertuig gevind is.

Die verdagtes is op aanklagte van poging tot moord, besit van ‘n gekaapte voertuig, besit van vermoedelik gesteelde eiendom en die onwettige besit van ‘n vuurwapen aangehou. Meer klagtes kan moontlik met die verloop van die ondersoek bygevoeg word.

Die verdagtes verskyn vandag in die New Brighton-landdroshof.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief