WES-KAAP. – Joshlin Smith (7) is gister (Woensdag) reeds ‘n jaar vermis en steeds word na haar gesoek. Joshlin het die harte van die land aangegryp, nie net omdat sy vermis is nie, maar omdat die persoon wat aan haar lewe gegee het een van die beskuldigdes in die saak van haar verdwyning is.
Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê die voorverhoorkonferensie van die staat teen Racquel Chantel Smith (Kelly), Jacquen Rowhan Appollis en Steveno Dumazio Duwayne van Rhyn sal Vrydag 21 Februarie in die hooggeregshof in Kaapstad plaasvind. Laurentia “Renz” Lombaard getuig vir die staat.
Op 19 Februarie 2024 het die 6-jarige gr. 1’tjie van Laerskool Diazville, Middelpos, vermis geraak. Sy sou hierdie jaar in gr. 2 saam met haar maats gewees het, maar hulle is sonder haar bevorder. Kelly, wat tans hoogswanger is, het na bewering in Augustus 2023 ‘n plan om haar kinders in Januarie of Februarie 2024 te verkoop of te laat wegneem, bekendgemaak. Joshlin het nog ‘n boetie (11) en sussie (2).
Op Sondag 18 Februarie stap Kelly met Joshlin na ‘n wit geparkeerde motor en praat met ‘n vrou wat “iets” aan Kelly oorhandig. Daarna is sy en Joshlin terug huis toe. Dieselfde dag nog het al drie beskuldigdes en Lombaard besluit hoe geld vir die beweerde verkoop tussen hulle verdeel sou word.
Maandag het Kelly vir Joshlin en haar boetie gesê hulle gaan nie skool toe nie en Joshlin se klere is in ‘n sak gepak. Kelly is daarna werk toe en het die kinders en die sak klere in Jacquen Appollis, met wie sy in ‘n verhouding was, se sorg gelaat. Dieselfde dag het Lombaard saam met die ander beskuldigdes by die kinders in die huis gerook.
Kelly het later teruggekeer huis toe, die sak klere en vir Joshlin gevat en die huis te voet verlaat. Joshlin en Kelly het in die wit voertuig geklim, wat weggery het.
Later die aand het Kelly na Joshlin begin soek en haar as vermis aangegee. Die beskuldigdes is later in hegtenis geneem en is sedertdien in aanhouding.
Joshlin is glo vir R20 000 verkoop.
Die beskuldigdes staan op aanklagte van mensehandel vir die doeleindes van uitbuiting en ontvoering tereg.
Kol. André Traut sê aan Nuusflits die ondersoek en soektog na Joshlin duur in samewerking met die plaaslike gemeenskap voort. Alle nuwe inligting wat tydens die ondersoek ontbloot word, word nagegaan om tot die oorsprong van haar verdwyning te kom.





