WES-KAAP. – Joshlin Smith (6) is steeds vermis. Laurentia “Renz” Lombaard (32) gaan vir die staat getuig. Kelly het glo met Joshlin in ‘n wit voertuig geklim wat weggery het. Die kind is later as vermis aangemeld.
Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê alle bewyse is noukeurig geassesseer, waarna besluit is om Lombaard vir getuie aan te wend. Die saak is na die hooggeregshof oorgeplaas en sal vir die voorverhoor op 31 Januarie 2025 op die rol geplaas word.
Jacquen Appollis (31) – beskuldigde 1, Steveno van Rhyn (27) – beskuldige 2 en Racquel Smith (Kelly) (33) – beskuldigde 3, sal dus nog Kersfees en Nuwejaar in die tronk deurbring.
Ntabazalila sê Kelly het na bewering in Augustus 2023 ‘n plan om haar kinders gedurende Januarie of Februarie 2024 te verkoop of te laat wegneem, bekendgemaak. Joshlin het nog ‘n boetie (11) en sussie (2).
Op Sondag 18 Februarie gaan Kelly en Joshlin na ‘n wit geparkeerde motor en praat met ‘n vrou wat “iets” aan Kelly oorhandig. Daarna is Kelly en Joshlin terug na hulle huis toe. Dieselfde dag nog het al drie beskuldigdes en Lombaard besluit hoe geld tussen hulle verdeel sou word. Maandag het Kelly vir Joshlin en haar boetie gesê hulle gaan nie skool toe nie en het Joshlin se klere in ‘n sak gepak. Kelly is daarna werk toe en het die kinders en die sak klere in Jacquen Appollis, met wie sy ‘n verhouding gehad het, se sorg gelaat. Dieselfde dag het Lombaard saam met beskuldigde 1 en 2 by die kinders in die huis gerook. Kelly het later teruggekeer huis toe, die sak klere en vir Joshlin gevat en te voet die huis verlaat. Joshlin en Kelly het in die wit voertuig geklim, wat weggery het.
Later die aand het Kelly na Joshlin begin soek en haar as vermis aangemeld. Die beskuldigde is op 5 Maart gearresteer en aangehou.
“Die staat sal bewyse lewer van dokumente en uitwysings van beskuldige 1 en 2.”
“Die staat beweer dat te alle wesenlike tye en plekke wat in die aanklagte genoem word, die beskuldigde persone ‘n gemeenskaplike doel gehad het en saam opgetree het om daardie doel te bereik, naamlik om die misdrywe wat in die aanklagte vervat is, te pleeg. Al die beskuldigdes (individueel) het die onregmatige kriminele uitkoms bedoel of, met roekelose agting, die moontlike verwesenliking daarvan voorsien.”
Nuusflits het voorheen berig die polisie ondersoek nuwe inligting wat na vore gekom het en die saak is tot 21 Oktober uitgestel. Die ondersoek is as in ‘n sensitiewe stadium bestempel en besonderhede kon nie bekendgemaak word nie, aangesien dit in die hof gedeel sou word
Smith het op 19 Februarie uit die kusdorp van Saldanhabaai vermis geraak en soektogte om die kind op te spoor, wat internasionaal gestrek het, het tot op hede niks opgelewer nie. Sy is glo vir R20 000 verkoop. Haar ma, wat een van die beskuldigdes is wat in die hof verskyn, het vandag hoogswanger gelyk.
Racquel Smith (Kelly) (33), Jacquen Appollis (31), Steveno van Rhyn (27) en Laurentia “Renz” Lombaard (32) het almal hulle borgaansoeke laat vaar. Hulle staan op aanklagte van mensehandel vir die doeleindes van uitbuiting en ontvoering tereg.
Intussen word daar steeds na Joshlin Smith gesoek.





