WES-KAAP. – Die polisie het in verband met die saak van Joshlin Smith (6), wat steeds vermis word, bevestig kledingstukke is in ’n geïdentifiseerde area opgespoor. Dié klere is nou in die polisie se besit vir verdere ondersoek.
AO Joseph Swartbooi sê die ondersoek van omstandighede rondom die klere wat gevind is en die verdwyning van Smith duur voort. Enigiemand met inligting word versoek om die polisie onverwyld te nader.
Intussen het Gayton McKenzie, die president van die Patriotic Alliance, in ‘n video ‘n beloning van R1 miljoen vir die opspoor van Joshlin beskikbaar gestel en gesê geen vrae sal gevra word nie.
Vyf verdagtes kom weer op aanklag van mensehandel vir uitbuiting en ontvoering op 13 Mei in die Vredenburg-landdroshof voor. Racquel Chantel Smith (Kelly) (33), Jacquen Rowhan Appolis (31), Steveno Dumaixio Duwayne van Rhyn (27) en Lourentzia “Renz” Lombaard (32) het almal hulle borgaansoeke laat vaar.
Phumza Sigaqa is weens onvoldoende bewyse hangende die ondersoek vrygelaat.
Joshlin Smith (6) het op 19 Februarie verdwyn en is as vermis aangemeld. Die verdagtes het na bewering die vermiste meisie op die betrokke dag van haar verdwying vir R20 000 verkoop. Joshlin Smith is van haar reg van vryheid van beweging ontneem en dit is steeds onbekend waar sy haar tans bevind.
Kelly Smith is glo weer swanger terwyl haar ander twee kinders in die sorg van familie is.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
Lt.kol. Malcolm Pojie sê dit is normaal om gedurende die ondersoek persone van belang te ondervra met die doel om die saak op te los.
Pojie sê in belang van die oplos van die saak en om Joshlin te vind, kan operasionele inligting en hoe die ondersoek verloop nie bekendgemaak word nie, aangesien dit die ondersoek skade kan aanrig.
Kyk die video-opname van Gayton Mckenzie hier onder:





