WES-KAAP. – Nog ‘n vrou (32) sal vanoggend in die Vredenburg-landdroshof vir beweerde betrokkenheid by die verdwyning van Joshlin Smith (6) van Diazville in Saldanhabaai verskyn.
Lt.kol. Malcolm Pojie sê dit is normaal om gedurende die ondersoek persone van belang te ondervra met die doel om die saak op te los.
Pojie sê in belang van die oplos van die saak en om Joshlin te vind, kan operasionele inligting en hoe die ondersoek verloop nie bekendgemaak word nie, aangesien dit die ondersoek skade kan aanrig.
Indien meer mense aangekla word om in die hof te verskyn sê Pojie, sal inligting verskaf word.
Joshlin Racheline Smith is sedert 19 Februarie vermis. Vier verdagtes, onder wie haar ma Kelly Smith, het reeds in die Vredenburg-landdroshof verskyn, waarna die saak tot 13 Mei uitgestel is. Die saak teen Phumza Sigaqa is teruggetrek, hangende die ondersoek. Die ander drie beskuldigdes het hulle aansoek om borg laat vaar.
Jacquen Rowhan Appolis (31), Steveno Dumaixio Duwayne van Rhyn (27), Racquel Chantel Smith (33) en Phumza Sigaqa word van mensehandel met die doel van uitbuiting en ontvoering aangekla.
Die verdagtes het na bewering die vermiste meisie op die betrokke datum van haar verdwying vir R20 000 verkoop. Joshlin Smith is van haar reg van vryheid van beweging ontneem en dit is steeds onbekend waar sy haar tans bevind.
Die ondersoek om Joshlin op te spoor, duur voort.





