Joshlin Smith – trui forensies ontleed

Lees ook :

Foto: Op lêer

WES-KAAP. – Joshlin Smith (6) word steeds gesoek nadat sy op 19 Februarie uit Saldanhabaai vermis geraak het. Die gemeenskap het tydens ‘n soektog op ‘n trui afgekom, wat aan die polisie oorhandig is.

Lt.kol. Malcolp Pojie het aan Nuusflits bevestig die trui is deur forensiese deskundiges in ontvangs geneem en dit sal forensies ontleed word.

” Die ondersoek met verskeie gespesialiseerde eenhede, wat deel vorm van ‘n geïntegreerde ondersoekspan, duur voort.”

Pojie sê terwyl die ondersoek voortduur, word daar steeds na Smith gesoek.

Die vermiste Joshlin Smith (6) is glo vir R20 000 verkoop. Enigiemand met inligting word versoek om die polisie overwyld te nader. Daar is steeds ‘n beloning van R1 miljoen op die spel wat deur Gayton McKenzie, die leier van die Patriotic Alliance, vir die opspoor van Joshlin beskikbaar gestel is.

Die vyf verdagtes wat in die saak in hegtenis geneem is, kom weer op aanklag van mensehandel vir uitbuiting en ontvoering op 13 Mei in die Vredenburg-landdroshof voor. Racquel Chantel Smith (Kelly) (33), Jacquen Rowhan Appolis (31), Steveno Dumaixio Duwayne van Rhyn (27) en Lourentzia “Renz” Lombaard (32) het almal hulle borgaansoeke laat vaar.

Phumza Sigaqa is weens onvoldoende bewyse hangende die ondersoek vrygelaat.

Kelly Smith is glo weer swanger terwyl haar ander twee kinders in die sorg van familie is.

Polisieminister Bheki Cele het reeds aangedui die soektog het internasionaal uitgebrei.

Nuusflits het voorheen soos volg berig: 

Die vier beskuldigdes in die saak van die verdwyning van Joshlin Smith (6) het vir die eerste keer saam op aanklagte van mensehandel vir die doeleindes van uitbuiting en ontvoering in die Vredenburg-landdroshof verskyn.

Die DA en Ian Cameron het intussen gevra die saak moet dringend na die bekwame eenheid vir onopgeloste sake oorgeplaas word.

Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê Racquel Chantel Smith (Kelly) (33), Jacquen Rowhan Appolis (31), Steveno Dumaixio Duwayne van Rhyn (27) en Lourentzia “Renz” Lombaard (32) het almal hul borgaansoeke laat vaar. Die staat het uitstel met die saak versoek sodat verdere ondersoek kan voortgaan.

Adv. Aradhana Heeramum het aan die hof voorgehou die polisie is besig om leidrade in die ondersoek wat voortduur op te volg. Daar is bevestig ‘n forensiese verslag is ontvang en selfoondata word geanaliseer. Wanneer die ondersoek afgehandel is, sal gehoor word waar die saak aangehoor sal word.

Die saak is tot 15 Julie uitgestel.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App