WES-KAAP. – Joslin Smith word sedert Maandag gesoek en ‘n hommeltuig sowel as ‘n polisiehelikopter is al in die soektog ingespan. Intussen het Joslin se juffrou en maats by Primêre Skool Diazville op Saldana ‘n plantjie vir haar geplant.
André Truter, die uitvoerende burgemeester van Saldanhabaai, het gisteraand bevestig sy is nog nie gekry nie en het vanoggend hoop uitgespreek dat sy wel gevind sal word.
Truter sê die ondersoek het uitdagings ondervind met individue wat oor die polisie-ondersoekers se doen en late gerapporteer het. Hy het gewaarsku dit het ‘n negatiewe invloed op die ondersoek as mense op sosiale media verkondig wat hulle sien. Daar is gewaarsku dat die polisie nie sal huiwer om op te tree teen skuldiges wat ongeverifieerde inligting versprei nie.
Volgens Truter het Premier Alan Winde hom gekontak om meer hulpmiddele van die polisiekommisaris te probeer bekom.
Rolspelers wat voortdurend soek om Joslin op te spoor, is bedank.
Nuusflits het voorheen berig:
WES-KAAP. – Joslin Smith (7), ‘n gr.1-leerder van die Primêre Skool Diazville op Saldanhabaai, is sedert Maandag 19 Februarie 2024 vermis.
André Truter, die uitvoerende burgemeester van Saldanhabaai en die Weskus-distriksmunisipaliteit, sê die polisie was amper die hele dag op ‘n toneel om ondersoek in te stel.
Die munisipaliteit het ‘n hommeltuig beskikbaar gestel en die gemeenskap het saam gesoek, maar tot dusver was die soeke na Joslin sonder sukses.
Primêre Skool Diazville het ‘n sosialemediaplasing gemaak en ouers gevra om na die jong meisie te soek. Die skool het in kommentaar op hulle plasing gesê: “Baie dankie vir u ondersteuning. Ons vertrou op die Here en ons bly positief oor Joslin. Sy was gister olik en was nie by die skool nie. Sodra ons enige verdere inligting ontvang, sal ons met die toestemming van haar mamma dit met u deel. Almal het baie vrae oor die omstandighede rondom haar verdwyning. Kom ons gee haar mamma kans om alles wat tans aan die gang is te verwerk en ook te hanteer. Baie dankie vir u omgee. Diazville PS”
Volgens inligting was die meisie moontlik in die geselskap van ‘n onbekende seun naby die Diazville-kliniek gesien.
Sy was in ‘n denim kortbroek en ligblou T-hemp geklee.
Enigiemand wat weet waar sy haar bevind, kan die polisie op Saldanha by 022 714 8333, Kelly, haar ma by 063 710 3601, Primêre Skool Diazville by 022 7141 645 of Missing Children South Africa by 072 647 7464 bel.





