Joslin Smith word steeds gesoek

Lees ook :

Foto's: André Truter

‘n Polisiehelikopter het nou by die soektog na Joslin Smith (7) op Saldanhabaai aangesluit. Die gr.1-leerder is sedert Maandag vermis.

André Truter, die uitvoerende burgemeester van Saldanhabaai, sê hy was met die stasiebevelvoerder van Saldanha in gesprek oor pogings om Joslin te vind en daar is bevestig die helikopter sal ingespan word.

Truter sê die ondersoekspan volg alle leidrade op terwyl vrywilligers wat help soek weer by Diazville se gemeenskapsentrum bymekaar sal kom en opdragte van die polisie sal ontvang.

“Indien jy ver is en nie met die soektog kan help nie, hou asseblief aan om vir die familie en persone by die soektog te bid. Kom ons hou hoop lewendig,” het Truter vanoggend gesê.

Gisteraand is bevestig verskeie ondersoekspanne wat ‘n hommeltuig insluit, sal met die soektog voortaan.

Truter se versoek is dat Joslin steeds as vermis gesien sal word en vra enige leidrade of inligting kan by Saldanha-polisie aangemeld word by 022 714 8333.

Nuusflits het gister berig:

WES-KAAP. – Joslin Smith (7), ‘n gr.1-leerder van die Primêre Skool Diazville op Saldanhabaai, is sedert Maandag 19 Februarie 2024 vermis.

André Truter, die uitvoerende burgemeester van Saldanhabaai en die Weskus-distriksmunisipaliteit, sê die polisie was amper die hele dag op ‘n toneel om ondersoek in te stel.

Die munisipaliteit het ‘n hommeltuig beskikbaar gestel en die gemeenskap het saam gesoek, maar tot dusver was die soeke na Joslin sonder sukses.

Primêre Skool Diazville het ‘n sosialemediaplasing gemaak en ouers gevra om na die jong meisie te soek. Die skool het in kommentaar op hulle plasing gesê: “Baie dankie vir u ondersteuning. Ons vertrou op die Here en ons bly positief oor Joslin. Sy was gister olik en was nie by die skool nie. Sodra ons enige verdere inligting ontvang, sal ons met die toestemming van haar mamma dit met u deel. Almal het baie vrae oor die omstandighede rondom haar verdwyning. Kom ons gee haar mamma kans om alles wat tans aan die gang is te verwerk en ook te hanteer. Baie dankie vir u omgee. Diazville PS”

Volgens inligting was die meisie moontlik in die geselskap van ‘n onbekende seun naby die Diazville-kliniek gesien.

Sy was in ‘n denim kortbroek en ligblou T-hemp geklee.

Enigiemand wat weet waar sy haar bevind, kan die polisie op Saldanha by 022 714 8333, Kelly, haar ma by 063 710 3601, Primêre Skool Diazville by 022 7141 645 of Missing Children South Africa by 072 647 7464 bel.

Foto’s: André Truter, uitvoerende burgemeester Saldanhabaai

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief