GAUTENG. – Julius Malema, die leier van die Economic Freedom Fighters, se visumaansoek vir ‘n besoek aan die Verenigde Koninkryk is geweier. Die amptelike dokument van die weiering is deur die EFF op sosiale media gedeel. Die EFF het vanoggend (Donderdag) in ‘n verklaring gesê die besluit is polities gemotiveerd.
Volgens die brief is Malema se visumaansoek op grond van redes wat verband hou met openbare belang en immigrasieregulasies geweier. “In verband met hierdie besluit is daar geen reg op appèl of administratiewe hersiening nie,” lui die dokument.
Die VKVI-besluitnemingsentrum het verduidelik dat enige toekomstige visumaansoeke afsonderlik oorweeg sal word, maar waarskynlik ook afgekeur sal word tensy die omstandighede rondom die aansoek wesenlik verander. In die redes vir die besluit verwys die VK-owerhede na paragraaf V 3.1 van die immigrasiereëls wat bepaal dat ’n aansoek afgekeur moet word indien die persoon se teenwoordigheid in die VK nie tot die openbare belang bydra nie, weens gedrag, assosiasies of oortuigings.
Volgens die dokument sluit onaanvaarbare gedrag gedrag in wat ekstremistiese sienings bevorder, insluitend die gebruik van enige medium om haatspraak of terreur aan te hits, te regverdig of te verheerlik. Die VK-owerhede het die besluit geneem in ooreenstemming met die Terrorismewet van 2000, wat die minister van binnelandse sake toelaat om ’n organisasie te verbied indien dit met terrorisme verbind kan word en indien dit gepas is om so op te tree.
Die EFF sê op sy beurt in ‘n verklaring: “Die effektiewe verbanning van die president van die EFF is as gevolg van sy standpunt rakende die volksmoord op die Palestynse volk en sy uitgesproke steun vir die versetbeweging wat teen die volksmoordplegende Israeliese regime veg, asook sy standpunt en dié van die EFF oor rasse-ongelykheid in Suid-Afrika.”
Lees albei die volledige dokumente hier onder aangeheg:







Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





