Julius Malema skuldig aan haatspraak

Lees ook :

Foto: AfriForum

WES-KAAP. – Die Demokratiese Alliansie (DA) het die uitspraak waarin Julius Malema Woensdag in die Wes-Kaapse gelykheidshof aan haatspraak skuldig bevind is, verwelkom.

John Steenhuisen, DA-leier, sê in ‘n verklaring die uitspraak is ’n oorwinning vir die oppergesag van die reg, die Grondwet en alle Suid-Afrikaners wat die waardes van ’n vrye, regverdige en nierassige samelewing koester.

“Vir te lank het die wêreld toegekyk terwyl Julius Malema geweld, haat en verdeeldheid aangehits het. Vandag se uitspraak is ’n oorwinning teen sy veldtog om rassehaat en verdeeldheid te versprei. Dit toon dat ons instellings in staat is om politieke leiers tot verantwoording te roep,” het Steenhuisen gesê. Hy het bygevoeg dat die DA verdere stappe ondersoek om ernstige gevolge vir Malema se haatspraak te verseker. Volgens hom trek die Grondwet ’n duidelike streep waar spraak aanhitsing tot haat, diskriminasie of geweld behels.

“Die hof se uitspraak bevestig dat niemand, ongeag posisie of politieke amp, bo die reg verhewe is nie. Politieke leiers het ’n verantwoordelikheid om nasiebou en sosiale samehorigheid te bevorder, nie om dit af te breek en te verdeel nie. Haatspraak het geen plek in ons samelewing nie,” het Steenhuisen gesê. Hy het verder gesê die DA bly verbind tot ’n Suid-Afrika waar elke burger met regverdigheid, waardigheid en respek behandel word, en waar die Grondwet die hoogste gesag bly.

Die EFF het in ’n verklaring gereageer op die Gelykheidshof se uitspraak rakende Julius Malema. “Ons neem die hof se uitspraak waar as ’n aanval op die demokratiese ruimte en die reg om revolusionêre politiek te artikuleer. Die taal van revolusie kan nie gesuiwer word om die sensitiwiteite van dié wat steeds die vrugte van koloniale ontnemings geniet en nog nooit rassistiese geweld ervaar het nie, te paai nie,” het die EFF gesê.

“Die werklike geweld is die daaglikse werklikheid van grondloosheid, werkloosheid en rassisme wat swart mense verduur,” het die verklaring verder gelui.

Millie Westley van die Bittereinders verduidelik in ‘n sosialemediaplasing wat vir die saak voorlê:

“Wat nou vir Malema?

Wat beteken hierdie uitspraak en wat is dis volgende stappe?

Die hof was gevra om te bepaal of Malema se woorde haatspraak daarstel soos gedefenieer in PEPUDA. Dit is die eerste gedeelte (die meriete). Dit is op hierdie gedeelte wat die hof nou uitspraak gelewer het.

In die tweede gedeelte (die quantum) word die hof versoek om te beveel dat Malema en die EFF skadevergoeding aan Danté betaal. Die hof word ook verder versoek om die saak te verwys na die nasionale vervolgingsgesag vir kriminele vervolging en dan natuurlik dat Malema beveel word om sy stellings op alle sosialemediaplatforms terug te trek. Die regter moet nou ‘n datum aanwys vir die aanhoor van die tweede gedeelte.

Indien die nasionale vervolgingsgesag besluit om Malema te vervolg, sal hy teregstaan op aanklagte van crimen injuria. In die verlede het ons howe al vonnisse van tot 7 jaar tronkstaf gelewer vir soortgelyke oortredings. Indien Malema tronkstraf van selfs net een jaar, direk of opgeskort opgelê word, sal dit hom diskwalifiseer om as LP te dien – dit sal effektiewelik die doodskoot vir die EFF wees.

Malema en die EFF het reeds aangedui dat hulle teen die uitspraak wil appelleer. Hulle moet eers aansoek doen vir verlof tot appèl. Ons regspan het reeds besluit ons sal hulle aansoek om verlof tot appèl opponeer. Om te slaag met so ‘n aansoek, moet hulle die hof oortuig dat die regter gedwaal het in sy toepassing en interpretasie van die regsbeginsels of die feite van die saak. Ons is van mening dat hulle nie sal slaag met ‘n aansoek om verlof tot appèl nie.

Ons almal is versigtig optimisties, maar ons moet besef hierdie is n monumentale oorwining.

Ons hou jul op hoogte.”

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief