NOORD-KAAP. – Junior kommissarisse vir die polisie in die provinsie is gedurende ‘n funksie Saterdag in die Piet Thole-gemeenskapsaal in Rosedale, Upington verkies en ingehuldig.
Kol. Cherelle Ehlers sê tydens die funksie, wat deur verskeie hooggeplaastes bygewoon is, het vier leerders per distrik, deur konst. Zamile Mgevu oor polisie-aangeleenthede met ‘n induksieprogram opgevoed, voorbereide toesprake gelewer. Die toesprake het hul kennis as jong leiers ten toon gestel. Hulle moes hul siening oor maatskaplike euwels wat tieners ervaar weergee. Hulle moes egter nie net ‘n probleem identifiseer nie, hulle moes ook sê hoe dit reggestel kan word.
Van hier is die Top 10-leerderstoesprake gekies en moes hulle ‘n onvoorbereide toespraak van beoordelaars lewer. Na beraadslaging deur ‘n paneel is die wenners aangekondig. Simone van Rooyen is as die adjunkkommissaris vir provinsiale korporatiewe dienste, Ealroe Taddesse as die adjunkkommissaris van polisiëring, Onkarabile Kgomonyane as die adjunkkommissaris van misdaadopsporing en Oragolele Kuriti as die junior provinsiale kommissaris van die provinsie aangewys.
Hierdie junior lede sal aktief betrokke wees by opvoeding en bewusmakingsveldtogte wat die veiligheid van leerders sal aanspreek. Hulle sal die platforms gebruik om die jeug teen betrokkenheid by misdaad te waarsku en aktiwiteite loods om onder meer talente ten toon te stel.
Gen.maj. Raymond het die deelname van die jeug in hulle leeromgewing in die geveg teen misdaad benadruk. Die samewerking sal veiliger skole aan leerders bied en boelie-aktiwiteite sal ook aangespreek word. Raymond het gesê geen leerders moet verhoed word om skool toe te gaan nie.
LUR Bloem het gesê dit is inspirerend hoe die jeug vir hulle eie welstand verantwoordelikheid neem en moedig die leiers aan om as voorbeeld te dien.
Gen.maj. Phuthi het afgesluit deur te sê almal is leiers, of hulle nou gekies is of nie. Al die deelnemers sal die geleentheid gegun word om aan die inisiatiewe Safer School Pragrammes, GPF en Youth Against Crime deel te neem.





