‘Jy is goed genoeg,’ sê Susan Coetzer

Lees ook :

Susan Coetzer Foto: Facebook

Die aktrise, skrywer en motiveringspreker, Susan Coetzer, het Sondag sosialemediagebruikers met ’n inspirerende boodskap bederf. Sy het na aanleiding van ’n boodskap deur Russel Pollit, waarna sy die oggend op kanaal 145 gekyk het, haar eie verhaal vertel. Haar slotboodskap? Jy is goed genoeg.

Die volgende is ’n uittreksel uit haar plasing:

Vanoggend se boodskap deur Russell Pollit, op kanaal 145, het ‘n groot impak op my gehad. Hy het gesels oor hoe negatiewe boodskappe wat ons op ‘n jong ouderdom ontvang, “dat jy nie goed genoeg is nie,” soms jare later steeds ‘n negatiewe effek kan hê op jou selfbeeld en identiteit.

So het ek ook al deurgeloop … Ek onthou veral een insident baie goed. Ek is tydens ‘n praktiese eindeksamen deur die hoof van die dramadepartement voor almal uitgetrap omdat ek volgens hom die gedig “verkrag” het. Ek was sprakeloos van skok. Ek het dit bloot nie voorgedra soos ons almal as papegaaie afgerig is nie. Ek was innoverend en het met ‘n nuwe interpretasie vorendag probeer kom.

Ek het my trane teruggesluk en bewend van die verhoog afgeloop en uit by die departement se voordeur. Gelukkig is ek deur my spraaklektrise gebel. “Skryf neer en skryf vandag se datum by,” het sy gesê. “Jy is die heel beste student vir wie ek nog ooit in my loopbaan klas gegee het. Moenie dat iemand jou ooit wysmaak dat jy nie goed genoeg is nie.”

Ten spyte van haar bemoediging en die A-plus wat sy my toegeken het, (in plaas van die professor se druippunt) was my selfvertroue jare lank geknou. Toe ek met my debuutrol in Reza de Wet se verhoogstuk, Diepe Grond, op dieselfde aand aangewys is as beste nuweling en beste aktrise, was die negatiewe boodskap dat ek “nie goed genoeg is nie” steeds sluimerend in my kop.

Deur die jare moes ek gereeld my identiteit terugeis en my kop herprogrammeer – van “jy is nie goed genoeg nie”, tot jy is goed genoeg! Mense kan jou ware identiteit op verskeie maniere van jou ontneem, deur negatiewe boodskappe oor jou talent, karakter of liggaam aan jou te verkoop, of deur jou doodeenvoudig te ghost en jou nooit enige erkenning vir jou waarde te gee nie.

Raak ontslae van die negatiewe boodskappers wat leuens in jou ore fluister. Eis jou ware identiteit terug. Jy IS goed genoeg.

Lees haar oorspronklike plasing hier.

Bron: Susan Coetzer Facebook-blad

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief